Nuwe TV-vervaardigers slaan ontwikkelingskontrakte los met Silwerskermfees se Pitch Vir Ons-kompetisie

kykNET se Silwerskermfees het vanjaar vir die eerste keer die kollig op film én televisie laat val.

Die bevordering en ontwikkeling van plaaslike groot- en kleinskermvermaak het boonop wyer gestrek as die filmpremières en loodsepisodes wat by die fees vertoon is. In tandem met al die kykgenot is daar op verskeie maniere gewerk aan ’n opwindende toekoms vir die Afrikaanse TV-vermaakbedryf.

Een van dié fees-inisiatiewe was die nuwe Pitch Vir Ons-geleentheid. Vervaardigers is hiermee uitgenooi om kykNET-besluitmakers met vars, weldeurdagte konsepte vir nuwe televisieprogramme te beïndruk.

Ná ’n intensiewe siftingsproses met tientalle inskrywings in drie kategorieë, is ’n handjievol deelnemers uitgenooi om in persoon hul belowende programkonsepte by die fees aan  M-Net en kykNET se inhouds- en programdeskundiges voor te lê.

“Die Pitch Vir Ons-projek was ’n reusesukses,” sê Nicola van Niekerk, hoof van Premium-inhoud en ko-produksies. “Die voorleggings was van ’n uitsonderlike hoë gehalte en ons sien uit daarna om onder die Silwerskermfeesvaandel op die projek voort te bou.”

In die kategorie vir dokumentêre het Lauren Scholtz van Dala Films die Pitch Vir Ons-ontwikkelingskontrak losgeslaan. Lauren is ’n Kaapse aktrise, draaiboekskrywer en opkomende onafhanklike filmmaker met ’n BA Honneursgraad (Universiteit van Kaapstad). Alhoewel sy reeds meer as 15 jaar se advertensiewese-ondervinding op haar kerfstok het, en, onder meer, deel was van die Infinity Films-skrywerspan op die Showmax-reeks Troukoors, kry Lauren nou die geleentheid om een van haar eie dokkie-idees ’n werklikheid te maak.

Die dokumentêr wat Lauren saam met die bystand van M-Net en kykNET se inhoudspan gaan ontwikkel, is geskiedkundig relevant en gesetel in ’n eg Kaapse milieu.

Die realiteit- en vermaakkonsep wat die Pitch Vir Ons-keurders se asems weggeslaan het, is die breinkind van drie veelsydige storievertellers wat dié genre besonder goed ken. Philip Nolte, Duan Wanty en Ingrid Engelbrecht was al – afsonderlik of saam – inhoudsregisseurs van realiteitstrefferreekse soos Survivor SA en Temptation Island SA, asook Die brug, die opwindende avontuur-realiteitsreeks wat in Oktober op kykNET afskop.

Dié trio wat voorheen vir, onder meer, die gevestigde produksiehuise Afrokaans en Red Pepper Pictures gewerk het, pak nou self met hul produksiemaatskappy, Show/Tell Pictures,  ’n splinternuwe en unieke avontuur-realiteitsprogram aan.

Nóg goeie nuus vir jong Silwerskermfeestalent is dat Show/Tell Pictures nou ook hul loopbane verder kan voer met hul eerste ligte dramareeks. Duan en Philip was onderskeidelik die vervaardigers van die 11de Silwerskermfeeskortfilms Thrift tot die dood en Werpsel.  

Met die ervare Hélène Truter as hoofskrywer het Show/Tell Pictures se Pitch Vir Ons-voorlegging in dié kategorie ook tot ’n ontwikkelingskontrak gelei.

Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale, som die Pitch Vir Ons-kompetisie se doelstellings en resultate só op: “kykNET is ’n trotse oop ekosisteem wat floreer omdat ons die beste idees van buite af probeer absorbeer en omdat ons graag nuwe inhoudspanne en vervaardigers kans wil gee om ’n voet in die deur te kry. Ons was beïndruk dat soveel van die programvoorstelle insig in ons kykersgemeenskap getoon het. Daardie insig is ’n noodsaaklike bestanddeel in enige suksesresep.”